Publication

Die invloed van korrektiewe paring op seleksie

By Helena Theron 45 downloads

Veeboere, en selfs telers maak somtyds die fout om te dink korrektiewe parings "verander" teelwaarde-voorspellings. Maar meer belangrik: wat moet mens verwag van die nageslag wat verwek word uit korrektiewe parings?

Download this publication

PDF · 614 KB · 45 downloads

Download

From the document

Die invloed van korrektiewe paring op seleksie Deur dr Helena Theron

Gevestigde telers sal dikwels nie ‘n bul koop sonder om die bul se moeder ook te bestudeer nie, aangesien ‘n mens nie kan verwag dat ‘n bul met ‘n swak moeder goeie dogters sal teel nie. Hierdie beginsel maak sin en het ook ‘n genetiese onderbou. Telers het soms ‘n koei met swakkerige eienskappe of teelwaardes, maar omdat sy elke jaar kalf, bly sy in die kudde. Deur haar sogenaamd korrektief te paar – met ander woorde om ‘n bul uit te soek wat uitstekend is in die eienskappe waarin sy swak is – kan sy ‘n beter kalf teel. Die kalf sal teoreties gemiddeld tussen die ouers wees en sodoende sal sy dan kalwers teel wat beter as sy is. Hierdie stelsel werk baie goed vir die meeste eienskappe, soos groei en bouvorm. Sy kan dan vervang word deur ‘n dogter wat beter as sy is, en so word die kudde geneties verbeter. Telers moet egter bedag wees op die effek van korrektiewe paring, en dat dit met groot omsigtigheid gebruik moet word by die teel van bulle. Met korrektiewe paring verskil die bul en ‘n koei se teelwaardes baie, wat beteken daar is ‘n groter kans dat die kalf se teelwaarde sal afwyk van die midouer

waarde (Figuur 1). Gestel ‘n koei met ‘n EBVi (teelwaarde-indeks) vir melk van 80, word korrektief gepaar met ‘n bul met ‘n EBVi van 120 vir melk. Aanvanklik sal die kalf ‘n midouerteelwaarde ontvang, dus 100. Indien dit ‘n bulkalf is, sal ‘n koper aanvaar hy koop ‘n bul met ‘n gemiddelde melkteelwaarde. In werklikheid is daar egter, weens die korrektiewe paring, baie variasie in die bul ingeteel. Die klokvormige verspreiding is dus plat, met ‘n groter kans vir nageslag verder vanaf die gemiddeld. Verder kom data van sy dogters wat kalf redelik drupsgewys in (een of twee per jaar), in teenstelling met speenteelwaardes, waar ‘n redelike groepie gelyk inkom en die speenteelwaarde dus redelik akkuraat op ‘n jong ouderdom bepaal kan word. Dus kom ‘n wye verskeidenheid van dogters met meer en minder melk (weens die variasie wat hy teel) oor ‘n lang tyd in, wat onstabiliteit in die melkteelwaardes mag veroorsaak. Die kans dat ‘n bul uit ‘n korrektiewe paring vir melk baie variasie sal teel, met ander woorde dogters met minder en meer melk, is goed.

The opening of the PDF. Download it above for the full document.

Share:

Related publications