Enquiries?    info@studbook.co.za  
Normstellingsverslae gee melkprodusente ’n hupstoot

Normstellingsverslae Gee Melkprodusente ’n Hupstoot   Gaan terug

Tye het verander in die veebedryf. Om aan die voorpunt van die teling van hoë gehalte diere wat doeltreffende produksie lewer te bly, moet vandag se produsente ’n presisieboerderystrategie volg. Dit kan net bereik word deur noukeurige rekordhouding, ’n weldeurdagte telingsbeleid en deur ’n streng bestuurstrategie te volg. Enigeen wat hiervan afwyk, gaan voorwaar agterbly. 

Dié veranderinge word in die melkbeesbedryf vergemaklik deur die beskikbaarheid en gebruik van geïntegreerde melkstelsels en gebruikersvriendelike rekenaarprogramme. Hierdie tegnologie het administrasie en rekordhouding aansienlik vergemaklik. Dit het ook vir produsente die geleentheid geskep om hulle kuddes se produksie maklik en vinnig te analiseer en die nodige besluite te neem om te verseker dat hulle op koers bly met hulle kuddebeleid. 

Die groot tekortkoming wanneer op ’n plaassagteware-databasis gesteun word, is die onvermoë om die kudde se produksie met ander kuddes in die ras s’n te vergelyk. Sonder rasinligting is ’n produsent nie in staat om sy eie kudde se prestasie met dié van die voorlopers in die bedryf te vergelyk nie. Sinkronisasie van data SA Stamboek het nou ’n oplossing hiervoor nadat ’n stelsel ontwikkel is wat hierdie tekortkoming aanspreek.

Melkprodusente kan aan ’n gereelde geoutomatiseerde data-aflaaiproses deelneem, waardeur hulle plaasdata gesinkroniseer word met Logix, SA Stamboek se sentrale databasis. Data wat gesinkroniseer kan word, sluit alle nuwe geboortes en diere se registrasies in, sowel as reproduksie-inligting, aaneenlopende melkproduksie en alle kansellasies van diere. Al wat ’n produsent nodig het om deel te neem, is ’n rekenaar met ondersteunende sagteware en ’n Internet-verbinding. 

Hoewel baie data reeds op ’n roetinebasis vasgelê word deur ’n meer tydsame proses, word data oor melkproduksie tans net opgeneem vir kuddes wat aan tradisionele melkaantekening deelneem. Die nuwe stelsel skep ’n geleentheid vir produsente wat nie aan tradisionele melkaantekening deelneem nie, maar wel melkproduksie-inligting op die plaas aanteken, om ook deel te wees van ’n sentrale databasisstelsel en die voordele wat daarmee gepaardgaan. 

Volledige bestuursverslae Deelnemers sal saam met die outomatiese instuur van data ’n volledige bestuursverslag ontvang wat nie net hulle eie kudde se statistieke op ’n maklike en gebruikersvriendelike manier uitbeeld nie, maar ook waardevolle vergelykings (normstelling) insluit teen ander kuddes van die ras. 

So kry telers die geleentheid om hulle eie vordering te monitor, om gereeld klein veranderinge te kan maak en te verseker dat doelstellings bereik word. Hierdie presisiebestuur en toepassing sal sorg dat die kudde steeds relevant bly in die bedryf. Die nuwe stelsel is tans in die finale fase van toetsing, waarna dit vir alle belangstellende melkprodusente beskikbaar sal wees. 

Aflaaibare Dokumente

# Naam Beskrywing
1. Normstellingsverslae Gee Melkprodusente *(.pdf)
  Links kliek die dokument naam om oop te maak of Regs kliek die dokument naam en kies Save Target as... om die dokument af te laai.



Artikel Indeks  Terug na bo

© SA Stamboek. All Rights Reserved.
No article or picture may be reproduced\published
without the written consent of SA Stamboek.